Click on the images on this web-site to view full size image
Skrywers Hoekie
Stuur jou oorspronklike werk vir publikasie hier op die amtelike Booktown Rickmond web-blad writers@richmondnc.co.za

Dringend Gesoek:
Skrywers en digters is welkom om eie werk in te stuur vir publikasie hier op die Booktown Richmond Web-blad.
Stuur dit aan Skrywers

UIT DIE OOSTE
Na Journey of the Magi - T S Eliot
Die  mooi handgeweefde matte, wyn in die fynste glas,  delikate mosaïk teen die mure,  koepelgange wat groot, dikwels leë kamers verbind,  die diens van slawe en slavinne wat al my behoeftes voorsien het,  het ek agtergelaat, na wat ek gesien het ver oorkant 'n dorre woestyn.  Na wat ek ervaar het, gesien het, het dit wat ek agtergelaat het als tevergeefs  laat lyk, 'n oordaad wat my nie meer wou bevredig nie. My mede-reisigers het dit ook so ervaar. Nou is my tuiste 'n tent op die vlaktes, maar ek het meer as wat ek ooit gehad het. My boeke het ek behou, maar wat ek geleer het is nog nie in boeke opgeteken nie.

Ons het lank voor die tyd reeds kennis gedra uit ou geskrifte dat ons oos moes kyk - dat daar iets uit die ooste sou verrys wat ons noukeurig moet navors en navolg. Deur die eeue het manne van ons klas kennis versamel. Kennis van die hemelruim, en van alles om ons; natuurverskynsels, wat die kennis van die lewe vir ons sou openbaar. Ons het gepoog om in die toekoms in te sien - om verskynsels te verklaar, al was en is ons kennis nie volledig nie. Dit weet ons nou.

Met die eerste sig van die helder ster in die ooste, het boodskappers ver en wyd die tyding oorgedra van en aan manne soos ek; manne wat uit hul eie kultuur en omgewing alles bestudeer het. Ons het nie geweet presies wat dit sou aandui nie, maar dat dit raar was, was seker.

Ons het inderhaas bymekaargekom om te bespreek hoe ons op hierdie natuurverskynsel sou reageer - en beraadslaag oor wat die geskrifte daaroor gesê het. Uit die geskrifte wou dit voorkom of daar 'n groot koning in aantog was - een wat ons moes ontmoet, met waardevolle geskenke, om hom hulde te bring en van ons welwillendheid te oorreed.

Die stemme was soms teenstrydig, maar uiteindelik is besluit dat ons tog na die ooste sou reis om dié koning te ontmoet. Hoe lank die tog sou wees en hoe ver die eindpunt was, was ons nie seker van nie.

Dit was 'n lang en moeilike tog. Eers moes pakdiere wat al ons benodigdhede sou vervoer aangekoop word, voorraad vir 'n groot geselskap mense voorsien word, ons privaat sake afgehandel en oorhandig word aan vertrouelinge, en ons moes afskeid neem van geliefdes - ons sou 'n  tog onderneem, 'n gevaarlike tog,  met geen sekerheid oor wat ons sou vind nie, hoe ons ontvang sou word nie, of wanneer ons weer tuis sou wees nie.

Die kamele was soms halsstarrig en het net gaan lê, die drywers se geskree en geswets ten spyt. Sandstorms het oor en om ons gewaai - soms kon mens en dier skaars asemhaal en moes ons halt roep.  Snags was dit bitter koud en het die warmte van die kamele gehelp om ons aan die lewe te hou. Van die slawe wat moes help met  kamp opslaan en kosbereiding het gedros - die tog het vir hulle te moeilik geraak en hulle het ook na die vleispotte van ons paleise verlang. Soms moes ons afwyk van ons roete om rowerbendes te vermy. In sommige streke was die mense ons vyandig, soms was blyplek in die stede en dorpies skaars en duur, en vuil boonop. Hoe wys was ons om hier die tog te onderneem?

Ons het deur seisoene en woestyne gereis. Later sou van ons besef dat ons nog altyd, voor die tog, in die woestyne van ons siele bevange was. Dat al die kennis wat ons gehad het, net 'n onbeduidende deel van die waarheid was.

Toe, na etlike maande se reis, het die voorkoms van die ster verander - dit wou voorkom of dit stil gaan staan het, of die eindpunt nou naby was.  Moeg, met brullende kamele en bulkende donkies en blêrende bokke het ons die stad binnegevaar en blyplek en lafenis gaan soek.  Ons aankoms het heelwat steurnis veroorsaak - die Romeine was agterdogtig oor dié vreemdelinge uit verre lande wat hierdie oproerige streek besoek.

Ons het blyplek by 'n herberg langs 'n waterstroom gekry, met drie bome op 'n heuweltjie agter. 'n Welige wingerdstok het skadu gebied. Drie mans het voor die plek sit en dobbel. Dit het alles rustig gelyk en ons kon 'n bietjie ontspan. Of so het ons gedink, voor ons ontbied is om die doel van ons tog aan die goewerneur te gaan verduidelik.

Ons het daardie aand ons doel bereik - ver uit die groot stad uit. Dit was baie bevredigend, en ons kon ons geskenke neerlê. Die geskenke wat ons so sorgvuldig gekies het, al het ons soms kritiek verduur en self vertwyfeling gehad oor ons keuses, was toe heel van pas.

Daardie nag het ons 'n tyding in 'n droom gekry - vreemd dat ons elkeen so gedroom het. Op so 'n tyding moet jy ag gee. Ons is met 'n ander roete terug na ons tuistes, terug wes, om ons lewens te hervat, elkeen op die wyse wat vir hom reg gevoel het.

Dis nou al so lank gelede, maar ek sou dit weer alles oor doen. Maar skryf dit neer; skryf neer - waarvoor is ons soontoe gelei?  Was dit vir 'n geboorte of 'n sterfte?  'n Geboorte was daar, ons het die Kind gesien, en 'n sterfte sou daar ook nog kom, én lewe.  En jy kan maar sê ons het ons ou lewens afgesterf, om weer te kan léwe.

Ons is nou weer tuis - maar ook nie - hier onder die ou bedeling, waar mense nog hul ou gode aanhang. 

SOPHIA RICHMOND
Na  Journey of the Magi - T.S. Eliot
HERFS SKEMERAAND
Die herfs skemeraand talm om Richmond,
Kinders op straat koggel en lag.
Honde aan leibande draai ongeduldig
 om drentellende bene.
Hondegeblaf sinkopeer elders
die suising van voertuie op die grootpad.
Die dag loop af -
Yl  geel wolke verroos.
Gesinne keer in vir die aand
en die Karoo herfs kom lê
koel om kaal skouers.

Deur: Sophia Richmond
Die Boekedorp Richmond web-blad publiseer wel werke anoniem, maar sal dit alleenlik doen, met die skrywers se besonderhede op leêr.
Die web-blad sal nie werke wat valslik voorgegee word as 'n eie skrywe publiseer as dit wel die werk van iemand anders is.

Plagiarism is a no-no!

Gietend, my Kruis, voor die poselein troon.

My kruis ruk my van die drome, waar ek verlore lê in die almoes van vrede,
Vêrlangs, 'n wereld vol vrede, my werklikheids ontsnapping van korte duur.
Ontploffende pyn, verrukings van my ontroubare lyf,
My ondraagbare kruis ruk my uit die vreedsame lakens,

Barstend, die oorverhitte kole trek deur my, dit ruk my slapende binnestes,
gooi dit met n brandende geborrel my keel op.
My kruis trek swaar vandag, te swaar vir my vleeslose skouers,
my oorblywende krag sleep my tot aanbidding, gietend, stort my kruis voor die porselein troon.

In Donkerte, my siel gedek, hukkend en slukkend my lewe se stortvloed,
Waar, o waar is die vrede, waar le my trots, my gelate waardigheid?
Elke ruk giet my siel voor die porselein troon, stomende warm gloede loop my bene af,
In poele van stank, my kniee gebuig, gietend, stort my kruis voor die porselein troon.

My moeder se geliefde seun, my gietende kruis, my eie geheim.
My broers my susters, my kruis is te swaar.
My geliefde kind, my kruis, 'n nagmerrie uit 'n veeverhaal,
Skreeuend, huilend, betas, gietend, stort my kruis voor die porselein troon.

Druppend, trek sout my hart uit my siel, vraend, onwetend, waarom die kruis.
Verbittering, 'n einde aan drome in skerwe,
Verplettering buig my sonder vertroosting, verlange na sagtheid en liefde,
Trek die swaarte, van my gietende kruis, voor die porselein troon.

Michael Drysdale
homepage uhren clock for blog